Rentia Weber. Memento

Memento

eendag
as jy goed bevlek is en staar
sal ek weer kom
flenter 'n opdrifsel
wat jy met krom
klou sal waai langsamerhand
afgeëts teen die skimmel van breinvlies
sal jy dalk verflard iets
onthou
van 'n laning verlies
'n gulsige mond wat my oopgepriem het
narstiglik gesluk het  
amper
verstik het aan lyfseer
volbring in die afstigting
en skeiding van mens
woorde is nie genoeg nie
liefde
allermins maar
gedompel in my kern was ek
jou langarmdans ligvoets
gebrekkig godgeskepte grein
groot maar toe ook klein
ek kon nie die horison briek
alles daarmee vervaag
na al die jare
is dit wat oorbly
ek
stoflaag

Rentia Weber

Rentia Weber is 43-jaar oud en het twee kinders, Klara (12) en Daniel (11). Sy het pas 'n BA graad in Kreatiewe Skryfkuns deur Unisa voltooi en beoog om volgende jaar voort te gaan met haar Honneurs.  Sy het na skool Skakelwese studeer en vir die volgende twintig jaar gewoon en gewerk in Engeland, Abu Dhabi, Namibië en die Paarl, waar sy tans woon. Sy lees en oefen graag en werk hard daaraan om soms net te fokus op haar asemhaling.  

Previous
Previous

Jessica Van Wynsberge. Iziko

Next
Next

Oscar Tops. Scherpschutter