Charl-Pierre Naudé. Foute

Foute

Foute verdien meer
as om vermors te word
op die onherbergsaamheid
van gewaande vlekkelose wesens

soos ons, die mens.

Natuurlik dryf ons foute op die lug na ons aan, soos siektes.
Natuurlik land hulle in ons klein hoekies soos motte.

Maar waarom al die name en beledigings?
Foute is ‘n soort eksotiese insek.
En insekte was ons almal eens gewees.
Ruimtevaarders van ‘n primitiewe soort.
Onsigbare, vlieënde, onnadenkende kringspiere
sonder liggaam.
Uitsittend en inkrimpend –
’n kleurlose lugmag wat oefen.
Slegs in die verbygaan saai hulle verwoesting,
per ongeluk,
soos valskermsoldate van ‘n geprikte moondheid
wat op ons land
en ‘n stippeltekening wil maak op ons sneeuwit wil.

Soos kieme, probeer ons foute sê:
Jou ware probleem is groter as ons, mens.
Óns help maar stukkie vir stukkie
bou aan jou weerstand.

Charl-Pierre Naudé

Charl-Pierre is 'n digter en romanskrywer. Hy het verskeie digbundels op sy naam, insluitend Die nomadiese oomblik (1995) en Al die lieflike dade (2014). In 2018 verskyn sy roman Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey. Sy doktorale tesis, In die rede geval: waarom die mens mites maak (2023) het by Naledi verskyn.

Previous
Previous

Programme: Samespraak 2024/S1

Next
Next

Yves T’Sjoen. Dr. Kwame Nkrumah en de pan-Afrikaanse gedachte